van Wortels na Vrugte – Deur Henru Pieters

My reis deur die dieptes van die Hebreeuse Wortels Beweging en hoe GENADE alleen my daaruit gered het.

Die Torah Pad…

Vir omtrent ses en ‘n halfjaar was ek intensief betrokke in die Hebreeuse Wortels Beweging. Vir meer as vyf jaar het ek Bybelse Hebreeuse klasse landswyd aangebied. Vir drie jaar was ek ‘n Messiaanse bedienaar in verskillende bedienings, met verskeie funksies.

Wanneer ek my storie vertel, dan getuig ek net aangaande dit wat ek gesien, gehoor en beleef het in my wandel. Ek kan nie namens enige ander persoon praat nie, ek is ook bewus dat ons almal mense is en ons ervarings en perspektiewe verskil. Daarmee wil ek graag meedeel wat ek ervaar het. Dit wat ek deel word beoog om die Liggaam van Christus te stig, nie om klippe te gooi nie, maar eerder een broer wat deel met ander broers en susters in ‘n liefdevolle wyse.

Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.         

2 Timoteus 3:16-17

NUWE OPENBARINGS – NUWE WANDEL

My eerste aanraking met die Hebreeuse Wortels Beweging (HWB) ook bekend as die Messiaanse Beweging, was in 2008. Dit was gedurende my tyd as ‘n vrywillige werker by die Volle Evangelie Kerk (V.E.K). Die mense het anders geklink en gelyk, maar tog het hulle dieselfde Bybel gehad as ek en boonop het hulle dit beter geken as ek. Hulle het ‘n antwoord uit die Skrif gehad vir alles wat hulle doen, sowel as nie doen nie. My vrywillige werk by die V.E.K. het dus geëindig a.g.v. ‘n verloop van omstandighede waar ek teologiese verskille gehad het met die kerk.

Met die afloop daarvan was ek genader deur ‘n persoon wat aangebied het om my te onderrig in basiese Bybelse Hebreeus, sowel as die agtergrond van die Torah en die Tanakh (OT) en verskeie onderwerp studies. In Augustus van 2009, het my reis van nuwe openbarings begin. Dit het my vir die volgende ses jaar lank laat dieper delf in elke rigting vir meer kennis. Die ontnugtering en skok van hoe afvallig die Sondag kerk geword het, was een van die eerste hoof onderwerpe in ons studies. Heidense feeste soos Kersfees, Paasfees en Sondag aanbidding, was ontmasker en ontleed, met diep gesprekke oor Kerk geskiedenis en sistematiese teologie. Ek het vinnig verbitterd geraak teenoor die Sondag Kerk waaruit ek nou gekom het: “Hoekom leer hulle mense nie die waarheid nie?” het ek gedink. Geleidelik het daar ‘n hardheid in my gemoed gesak en ek wou nie eers meer ‘n “Christen” genoem word nie.

DIE BOOM VAN KENNIS…

Studeer, studeer en studeer, was wat ek vir maande lank gedoen het. Ek het dus vinnig verlief geraak op Bybelse Hebreeus. My heidense Kerk fondasie was stelselmatig afgebreek en vervang met ‘n Torah gebaseerde Hebreeuse perspektief, sodat ek die Skrif reg kon interpreteer.

Maart 2010 was ek op my eerste toer Israel toe. Dit was ‘n wonderlike belewenis. November 2010, het ek in geskryf by ‘n Suid Afrikaanse Hebreeuse Wortels Instituut om verder te studeer. Junie 2011, het ek begin om Bybelse Hebreeuse klasse aan te bied, ek het oor die volgende vyf jaar meer as 20 klasse landwyd aangebied. 2011 was ek amptelik aangestel as ‘n Hebreeuse navorser vir die Instituut waar ek studeer – ek het in Desember 2013, by die Instituut bedank, a.g.v. verskeie onreëlmatighede.

November 2011, behartig Brad Scott van Wildbranch Ministries my Messiaanse troue in Johannesburg. Oktober 2012, het ek vir die tweede keer Israel toe gegaan. Januarie 2013, ontvang ek my Honneurs Graad in Messiaanse Judaïsme. Oktober 2013, was ek aangestel as ‘n Leraar in ‘n Messiaanse gemeente in Vanderbijlpark. In November het ek ‘n derde Bybelse Hebreeuse kursus aan die Universiteit van Johannesburg voltooi.

DIE MESSIAANSE FOKUS

Die Torah pad het ‘n heel nuwe dimensie aan geneem teen die tyd wat ek voltyds by ‘n Messiaanse bediening begin het. Die hoof was ‘n man met ‘n visie wat diep spore wou trap vir die Messiaanse gemeenskappe. “Ons moet die mense Torah gehoorsaamheid leer” het hy gereeld vir my gesê. Ons het die mense geleer hoe om Shabbat te onderhou, Kosher te eet, die feeste te vier asook hoe dit Yeshua se koms vooraf proklameer, ons moes die mense Torah leer want,

My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.

Hosea 4:6

Ons dienste was in ‘n V.E.K. gebou wat ons gehuur het vir Saterdae, waar ons weekliks die Torah parasha (porsie) bedien het. Ons fokus was op die restourasie terug na die Handelinge Gemeente. Die gemeente was ongeveer 80 lidmate sterk en was daardie tyd die grootste waarvan ons bewus was in die Vaal Driehoek.

Ongelukkig was die fokus nooit om Geestelik te groei, die eenvoudige Evangelie te verkondig aan ‘n verlore wêreld of om net die Here se aangesig te soek in lofprysing en aanbidding nie. Die fokus was verwerwing van kennis, die herstel van die Torah en om Christene uit die Babiloniese kerk sisteem te lei.

IDENTITEIT – ISRAEL (HUIS VAN EFRAIM)

Met my eerste tree op die Torah pad, het ek in aanraking gekom met die konflik oor identiteit. Ek was geleer dat ek nie eintlik ‘n heiden was nie, maar wel van die “Huis van Efraim” of ook bekend as die “Tien Stamme”. Ek sou eers jare later die ware vrug sien wat hierdie leerstelling sou voortbring in my lewe.

Die kerk het tradisioneel geglo dat dit Israel vervang/verplaas het, onderworpe aan ‘n leerstelling wat “Vervangings Teologie” genoem word. Die HWB se lering van die “Twee Huise” is inderdaad ‘n omgekeerde Vervangings Teologie”, waar almal wat in Yeshua glo Israel word en nie die nasies in die vlees bly nie. In Efesiërs 2:11-22 en Romeine 11 verduidelik Paulus die eenheid in die Messias van Jood en nie-Jood, maar word tog hierdie Skrifte asook menigte ander verdraai om ‘n “Twee Huis” lering te staaf.

DIE EEN HUIS WORD TOE TWEE HUISE

As ons sê dat ons Israel is, maar geen begeerte of poging wys om terug te gaan na ons beloofde land nie, dan bedrieg ons onsself”, het ek gereeld aan die gemeente gesê. Augustus 2014 het van ons gemeente se leierskap Israel toe vertrek om uit te vind hoe ons kon terugtrek Israel toe. Die uitkoms van ons ondersoek in Israel het daartoe gelei dat ons een moontlike weg terug land toe gesien het. Dit was in samewerking met Kol hator wat ons sou help proseliteer en Ortodokse Jode word. Hul raad was as volg: ” Verwerp net die Christen Jesus openlik voor die Rabbi’s, omdat julle eintlik in die Joodse Yeshua glo”.

Terug in Suid-Afrika was ons voorgestelde plan nie goed ontvang deur die ander leierskap nie, in Oktober 2014 was daar ‘n gemeente skeuring. Die meerderheid van die gemeente wou nie proseliteer nie. Saam myself en die hoof was daar ‘n klein groepie mense wat bereid was om hierdie pionier roeping aan te durf. “Die Twee Huise moet verenig word voor die wederkoms van Yeshua, sekerlik sal net ‘n oorblyfsel die werk kan voltooi”, het die hoof gesê.

LITTLE ISRAEL KIBBUTZ

Einde 2012 het die idee om ‘n Kibbutz (landbou gemeenskap) op te rig gekom vanaf die hoof van die gemeente. Ek het dit sterk ondersteun in my eie kapasiteit. In April 2014 het die Kibbutz vorm gekry op ‘n plot in Meyerton. Aanvanklik was die visie om ‘n Messiaanse sending gemeenskap op te rig vir jongmense. Dit het egter gou verander in ‘n Proseliteer Gemeenskap waar ons voorberei sou word vir ‘n Ortodokse leefwyse in Israel. Die sou plaasvind onder leiding van Kol hator se Rabbi Avraham Feld en Ovadyah Avrahami. Die visie was om as ‘n gemeenskap saam te proseliteer en Ortodokse Jode te word, sonder om Yeshua te verloën in die proses.

Ongelukkig in die volgende paar maande sou ek skeuring op skeuring beleef a.g.v. hierdie lering. Na ses maande aan die einde van Mei het ons die Kibbutz op Meyerton toegemaak, die eksperiment was dus ‘n flop.  

Aan ‘n man wat partyskap verwek, moet jy jou onttrek ná die eerste en tweede vermaning, wetende dat so iemand op ‘n verkeerde pad is en sonde doen en selfveroordeeld staan. 

Titus 3:10-11

WEER ‘N KEER OM DIE BERG…

Die voormalige hoof stel op daardie stadium toe voor ons begin ‘n nuwe bediening saam, weereens met die “Twee Huis” lering as ‘n fundamentele leerstelling. Ons het ‘n kerk gebou gehuur straatop van die vorige gemeente, “ons gaan die Handelinge se Sinagoge weer herstel” of so het ons gedink. Geen Lofprysing of aanbidding nie, maar eerder die Amida gebed soos dit in Sinagoges gebid was in die eerste eeu. Daar was bedien oor die Torah porsie, na die diens was daar ‘n uur en ‘n half se “Midrash” studie oor die spesifieke porsie.

As ‘n leier in ons gemeente, het ek ‘n opregte begeerte gehad om te sien hoe ons herstel word terug na die dae van die Handelinge gemeente, die wonders en tekens, die krag van die Gees en tot die verstaan van die eerste eeu se Joodse volgelinge van die Messias. Tog het dit nie gelyk asof ons enige vordering toon nie. Inteendeel ons het net meer intellektuele kennis vergader en geensins die krag of die vrugte gevind as bewyse nie. Êrens het ons iets gemis. Verskeie vrae het by my afgespeel – was daar dalk meer te verstaan van die Torah? Dalk meer Hebreeuse kennis wat ons benodig? Ons vrugte asook die demonstrasie van krag en glorie het dan nie vermeerder in gelyke verhouding met ons kennis nie.

Uiteindelik het die Here vir my en my vrou gewys, na ‘n reeks Goddelike gebeurtenisse in ons persoonlike lewens dat Hy ‘n nuwe seisoen vir ons beplan. Vroeg in Januarie 2016 het ons bedank uit die Messiaanse bediening waarby ons betrokke was.  Ons Hemelse Vader roep ons terug na Sy Hart en so begin ons opnuut wandel in ‘n pad van intimiteit met ons Eerste Liefde.

DIE GOEIE

Hebreeus is ‘n wonderlike taal, dit is voordelig om te gebruik en te verstaan in Bybelstudie. Die verstaan van die Ou en Nuwe Testament as een verhaal in geheel help gelowiges om die groter beeld van God se verlossings plan in te sien. Hoe Israel en die Kerk saam deel vorm van God se plan word duideliker wanneer mens die Joodse wortels asook die Hebreeuse aard van die Nuwe Testament verstaan.

DIE SLEGTE

Paulus waarsku dat “die kennis maak opgeblase, maar die liefde stig” 1 Kor. 8:1. Ongelukkig is Hoogmoed een van die duidelikste kenmerke van die HWB. Paulus word uitgemaak as ‘n valse apostel in baie groepies, omdat sy interpretasie van die Torah nie volgens hierdie groepies verstaan of aanvaar word nie. Paulus sê mos,

hulle wil leraars van die wet wees, alhoewel hulle wat hulle sê, of die dinge wat hulle beslis beweer, nie verstaan nie.”

1 Timotheus 1:7

Wanneer die fokus verskuif word na kennis, sal hoogmoed volg, hoogmoed veroorsaak argumentasie, argumentasie lei na twis, waarvan die uiteinde skeuring en verdeeldheid van die Liggaam is. ‘n Huis wat verdeeld is, sal nie staande bly nie.


henru
Henru Pieters binne Zichron Ya’aqov se Sinagoge, Augustus 2014.

DIE LELIKE

Ek het self beleef hoe vriende van my uit die Sondag Kerk gaan, op soek na iets meer, in die HWB ingekom het vurig vir Jesus en die Bybel. ‘n Paar jaar later het ons vir hulle gaan kuier, glad nie bewus waarmee hulle tans besig was nie. Dit was op daardie punt wat ons onsself in ‘n leeukuil bevind het, hulle het Paulus ontbloot as ‘n valse apostel en ook bevind deur hul studies dat Jesus nie die Messias is nie en dat die Nuwe Testament ‘n onbetroubare bron is wat deur die Katolieke kerk verdraai is. Die hartseerste vir my was, dat hierdie nie die enigste gevalle was wat ek self teëgekom het nie.

“en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld.”

1 Johannes 4:3

PAULUS EN DIE VALSE LERAARS

Ek staan tans met meer waardering vir Paulus se konstante worsteling met die Joodse leraars wat rondgegaan het en al die gelowiges onder die nasies geleer het dat hulle moet die Feeste, Sabbatte en die Torah onderhou. Paulus verwys kontant na hierdie broers as valse leraars Gal. 3:2, Kol. 2:4-23 en Fil. 3:1-7. Paulus het nooit wetteloosheid verkondig nie, maar hy het ‘n intieme wandel deur die Heilige Gees in reinheid en eenheid gepreek.

DIE GOD BOKSIE

Die mense wat gewoonlik die meeste sukkel met die Godsdienstige Gees, sal die eerstes wees wat die werke van God in ‘n boksie sit en geen ander manifestasie van God of werking sal aanvaar buite hul God boksie nie. Die kerk net na Jesus het ook gesukkel om te verstaan hoe God nog ‘n plan het met Israel, al het hulle die Messias verloën. Paulus skryf,

“O Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”

Romeine 11:33-36

DIE FARISEËR GEES

Mattheüs 23 het Jesus die Fariseërs baie reguit aangespreek oor hul skynheiligheid en hul Godsdienstigheid. Wanneer die uiterlike meer beklemtoon word as die innerlike, word ruimte gegee vir ‘n Godsdienstige Gees om te seëvier. As ‘n sisteem, leerstelling of ‘n persoon, mense leer om afhanklik en vasgebind te word aan enige iets anders as aan Jesus, dan is dit die perfekte geleentheid vir die Godsdienstige Gees om kop uit te steek. Enige beheer wat uitgeoefen word oor mense a.g.v. ‘n leerstelling, kom uit ‘n Godsdienstige Gees.

Die elemente wat in die HWB die meeste op gefokus word, is onder andere;

Die Feeste van die Here, Shabbat, Kosher eet, Torah studie, Hebreeuse name, Tsitsit en Tallit (soms ook die Kippah) dra, baarde groei en om die korrekte Hebreeuse interpretasie van die Nuwe Testament te hê. Wat vir my skokkend was, is die feit dat ek mense gesien het wat al die bogenoemde beoefen het, maar geensins wedergebore was nie. Hulle het net een Godsdiens verruil vir ‘n ander, maar niemand om hulle kom egter agter dat hulle nog in die vlees is nie.

first wave
Foto: Henru Pieters, Augustus 2014 “First Aliyah Museum” Zichron Ya’aqov.

WAT SAL ONS DAN Sê?

Is alles dan verkeerd wat geleer of beoefen word in die HWB? Dit is een van die vrae wat ek gereeld gevra word. Nee, alles is nie verkeerd nie, daar is waarheid omtrent baie dinge, maar ongelukkig is meer waarheid nodig om ‘n sterker misleiding te hê. Die goeie kant van die Boom van Kennis, sal nooit lewe kan voortbring nie.

Die sterk misleiding in die HWB is dat die fokus nie bly by ‘n eenvoudige verhouding met Jesus nie, maar meer gekompliseerd word, tot op die punt dat die eenvoudige man op die straat nie die “Ware Evangelie” kan verstaan en gered kan word nie. Die fokus gly so stelselmatig na, kennis van die Woord asook die “regte name, kalender, gebruike, ens.”, dat iemand vir jare besig kan wees met dinge wat jou elke week verstom laat staan oor hoe “wonderlik” so en so is, maar dat jy nooit besef jou verhouding met Jesus is besig om tot niet te gaan nie.

Dit is nie meer ‘n geheim dat die tradisionele kerke begin leegloop nie, mense is op soek na meer, maar meer van wat? Ek glo ons almal is op soek na meer van die Here se teenwoordigheid, net soos Dawid gesê het;

“Een ding het ek van die HERE begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel”

Psalm 27:4

Kennis van die Here, hoe wonderlik en diep Sy Woorde is. Om verstom en in bewondering te wees is sekerlik die naaste plaasvervanger vir die Here se teenwoordigheid. Met opregte harte en rein bedoelings soek mense na ‘n dieper verhouding met God, maar dan word hulle mislei deur mooipraatjies en die wysheid van mense, net om vasgevang te word in ‘n baie sterker en dieper strik.

Die demonstrasie van die Gees en van krag sê Paulus is waarmee ons die Evangelie moet bedien.

DIE HOOGSTE PRIORITEIT

Die vraag tans in my hart is dus: “Hoe sou hierdie fokus van die HWB opweeg in die Vervolgde Kerk”? Dit wat werklik die belangrikste is vir ‘n mens en wat ook vir God die hoogste prioriteit is, sal altyd jou verhouding met Hom wees. Ken jy Sy stem vandag? More is dalk te laat vir jou. Is jy bereid om vandag te sterf vir jou baie eenvoudige geloof in Jesus as jou verlosser?

Ons is nie in ‘n verhouding met ‘n boek nie, maar met ‘n Persoon. Die Bybel is ‘n wonderlike, kosbare boek, maar ons lees en studeer daarvan moet eindig by die Persoon van Jesus, nie by Godsdiens nie.

Vir meer inligting kontak Henru Pieters gerus by henru.pieters@gmail.com

rabbi
Rabbi Avraham Feld en Ovadyah Avrahami stigters van Kol hator

diagram
Kol hator se diagram oor die evolusie van die Hebreeuse Wortels Beweging